Toerisme Ekspo strek oor grense

Frank Steffen
Tydens die Toerisme Ekspo 2023 wat Vrydagaand tot ’n einde geloop het, is Otjiwarongo as die dorp van die jaar aangewys en die jaarlikse bruidspaar van die jaar-kompetisie is amptelik van stapel gestuur.
Komnik & Franck se stalletjie is Tourismus Namibia se redakteurskeuse en is ook deur besoekers as die ekspo se stalletjie van die jaar aangewys. Jürgen Cronje, die uitvoerende hoof van Komnik & Franck, het gesê die ekspo was die perfekte geleentheid om hul nuwe produkte en dienste bekend te stel. “Al het ons baie produkte verkoop, was ons hoofdoel om die besoekers te verwelkom, hulle ons wyne te laat proe en vir hulle om ons produkte in die algemeen te leer ken. In daardie opsig is ek meer as tevrede,” het hy gesê.
Die ekspo het altesaam 60 stalletjies vir uitstallers gehuisves, asook 24 wat deel van die City Market was. Die ekspo was elke dag vanaf 16:00 tot 22:00 oop, wat volgens kommentare ’n welkome verandering vir die uitstallers was wat die oorblywende ure kon gebruik om normale besigheidsure te handhaaf.
Die Toerisme Ekspo het nog altyd op kwaliteit eerder as kwantiteit gefokus, en daarom beskou Namibia Media Holdings (NMH) die syfer van 4 281 besoekers as redelik. Die regstreekse seminare en aanlyn dekking voeg aansienlike waarde toe vir uitstallers en aanlyn besoekers. Seminare het gehandel oor die jeug in toerisme en hoe plaaslike bewaringsgebiede bestuur word in terme van bemarking en volhoubare oplossings vir die gemeenskappe wat hierdie gebiede in stand hou.
Gys Joubert van Gondwana Collection het gekyk na internskappe vir toerismestudente en wat gedoen kan word in terme van ingrypings vir maatskaplike verantwoordelikheid, terwyl Johan Muller, uitvoerende hoof van Krieket Namibië, gepraat het oor hoe sport positief tot toerisme kan bydra. Seimy Shidute Christoph van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het na oorgrenstoerisme met spesifieke verwysing na parke, soos die Kaza-oorgrenspark, waar spesiale visumreëlings ingestel word, gekyk.
Muller meen die impak van sport op ’n land se ekonomie word heeltemal onderskat. Die direkte verband tussen die bemarkingswaarde van sport sowel as die stimulering van ’n land se ekonomie, is van onbepaalbare hoë waarde. Hy het verduidelik wat die volgende twee internasionale Krieket Wêreldbeker-toernooie wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word vir Namibië beteken. “Daar is ’n direkte verband tussen hoe sport bewusmaking van ons land kan bevorder, asook die ekonomie kan stimuleer.”
Hy het spesifiek verwys na die sogenaamde Mega Events, soos die verskillende IKR Wêreldbekers, die vierjaarlikse Sokker Wêreldbeker en die Olimpiese Spele. Dié geleenthede dra by tot die internasionale bewusmaking van die gasheerland as vakansiebestemming en het ’n direkte ekonomiese impak op die gasheerland. “Krieket Namibië sal die 2026 o.19 Wêreldbeker sowel as die 2027 Senior Wêreldbeker vir mans aanbied. Volgens beskikbare data van 2019 behoort ons U$26 miljoen te genereer, wat deur die Senior Wêreldbeker die land sal invloei. Hierdie vloei van geld sal gegenereer word in die vorm van verblyf, vervoer en plaaslike produkte en dienste. Dit behalwe vir mense wat vir ’n paar ekstra dae gaan bly om vakansie te hou en om deur ons pragtige land te toer.”
Die Krieket Wêreldbeker-toernooie sal in 220 lande uitgesaai en deur ongeveer 1,3 miljard aanhangers gevolg word. Die ekonomiese bydrae van dié kykers – wat Namibië op TV sou sien en dit as vakansiebestemming sou kies – is nie eens by die inkomste ingesluit soos deur Muller bepaal nie, wat tot die gevolgtrekking gekom het: “Die bemarking van ’n land deur hierdie mega-geleenthede is van absolute kardinale belang vir ’n land se ekonomie.”
Die volgende Toerisme Ekspo is geskeduleer vir 24 tot 26 April 2024 – weer vanaf die Woensdag tot Vrydag.