Kollig op Betts se terugkeer in Afrikabeker-driekamp

Triathlon
Die Namibiese kusdorp skud sy vere reg vir die aanbieding van 'n wêreldklas sportgeleentheid môre.
Andrew Poolman

Die terugkeer van Maximilian Betts in Namibiese kleure na sy geboorteplek Swakopmund sal sonder twyfel môre een van die opwindende aspekte van die vyfde jaarlikse weergawe van die Afrikabeker-triathlonbyeenkoms op die kusdorp wees.

Nadat ‘n rekordgetal van 150 deelnemers verlede jaar meegeding het, word sterk getalle opnuut by die Mole-strandgebied verwag met die Namibiese kampioenskap in alle ouderdomsklasse wat terselfdertyd aangebied word. Prosperity Health en Seawork is die hoofborge van die geleentheid.

Betts, wat sy skoolloopbaan by Privaatskool Swakopmund voltooi het, het die laaste klompie jare in Duitsland deurgebring nadat hy die kans aangegryp het om sy abitur-jaar in Saarbrücken te voltooi.

In 2021 het hy die Nikar Heidelberg-span in die eerste Bundesliga vir atletiek begin verteenwoordig.

Betts het inderdaad in dieselfde jaar sy nasionale verteenwoordiging by die Wêreldtriathlon na Duitsland laat verander. Hy het ‘n sterk derde posisie by die Duitse nasionale junior kampioenskap in 2022 behaal.

Betts se nasionale status is sedert 9 Januarie 2026 weer as ‘n Namibiër by Wêreldtriathlon herstel. Hy het sy geboorteland in 2019 by ‘n Junior Afrikabeker-byeenkoms in Troutbeck, Zimbabwe, verteenwoordig, waar hy elfde klaargemaak het.

As ‘n oopwaterswemmer het Betts in Desember 2022 die Jetty Myl-byeenkoms op Swakopmund voor Nico Esllinger gewen, in een van die seldsame jare waarin Phillip Seidler weens ‘n besering sy houvas op die wentrofee moes prysgee.

Verteenwoordigers van die Namibiese Triathlonfederasie sien met afwagting uit na Betts se vertoning môre, hoewel in ag geneem word dat hy eers betreklik onlangs weer ernstig tot die sport toegetree het en dus dalk nog nie die toppunt van sy fiksheidspotensiaal bereik het nie.

 

ELITE MANS

Dertig elite mans van oraloor die wêreld het ingeskryf om vir die Afrikabeker se wenpunte mee te ding.

Valentin Wernz van Duitsland is die hoogste gerekende mansatleet, met ‘n 30ste posisie op die wêreldranglys.

Panagiotis Bitados van Griekeland is tans die tweede hoogste (62ste) en maak sy terugkeer om op sy oorwinning in verlede jaar se Afrikabeker-byeenkoms op Swakopmund voort te bou, waar Wernz met die derde plek tevrede moes wees.

Die Griek het sedertdien onder meer ‘n bronsmedalje by die Europese kampioenskap laas Augustus in Istanboel op sy kerfstok bygevoeg. Sy verowering van die Ironman 70.3 wêreldtitel in Mei verlede jaar in Italië was ook ‘n groot hoogtepunt.

Julian Birkel (70ste) van Suid-Afrika het hom ook tot ‘n stewige posisie opgewerk.

• Die lande en hul verteenwoordigende mansatlete is (resiesnommer tussen hakies):

Duitsland: Valentin Wernz (nr. 31), Benedikt Bettin (32), Justus Töpper (35), Lasse Nygaard Priester (44), Lasse Lührs (46),

Suid-Afrika: Julian Birkel (nr. 40), Aiden Petersen (41), Matthew van Coller (43), Conrad Visagie (50), William Pearson Inman (51), Pieterjan van der Merwe (52), Joshua Steytler (55), Chad Uys (56), Jack Spence (59), Michael Hesse (60).

Namibië: Maximilian Betts (57).

Griekeland: Panagiotis Bitados (33)

Kazakstan: Ayan Beisenbayef (34).

Kanada: Tristen Jones (36).

Turkye: ER Gültigen (38), Enes Kizilcik (42)

VSA: Zach Leachman (39), Daniel Gossow (54).

Barbados: Matthew Wright (47).

Israel: Itamar Eshed (48).

Ierland: Luke McCarron (37).

Tsjeggië: Martin Demuth (45; het Oostenryk tot Maart 2025 verteenwoordig).

Bermuda: Tyler Smith (49).

Brittanje: Luke Holmes (53)

Pole: Tymon Horsten (58; gebore in Nederland, verteenwoordig Pole).

 

ELITE VROUE

Vyftien vroue van elf lande sal by die beginstreep aantree, met Namibië se hoop op die jong Maja Brinkmann.

Slovakye: Zuzana Michalickova (nr. 1)

Japan: Himeka Sato (nr. 2)

Suid-Afrika: Shanae Williams (3), Danica van Jaarsveld (15).

Kanada: Kira Gupta-Baltazar (4)

VSA: Eleanor Beveridge (5), Britney Brown (6), Caroline Theil (12).

Duitsland: Jule Behrens (7)

Zimbabwe: Andie Kuipers (8)

Namibië: Maja Brinkmann (9)

Finland: Henrika Parviainen (10).

Serwië: Iva Pavlovic (11)

Albanië: Myral Greco (14) is in die proses om haar verteenwoordigende status vanaf Italië na Albanië te verander.

 

OPGESOMDE SKEDULE

Die Afrikabekerresiese se eerste wegspringtyd is om 10:45 (junior mans) met Namibië se Nathan Chase die verdedigende kampioen en opnuut ‘n gunsteling propvol selfvertroue. Anthony Clayton, Nicholas Horne en Oliver Delport van Suid-Afrika kan egter sterk kompetisie bied, terwyl James Langford, Matt Reece Izaaks, Dawie Greeff en Fynn Middleton ook deel van die Namibiese aanslag is.

Om 10:47 volg die junior vroue (insluitend die Namibiërs Kyra Marshall en Jana Mütschler); om 12:35 spring die elite vroue weg en om 13:55 sal die elite mans aan die beurt kom.

Die Namibiese nasionale kampioenskap se resiese begin 08:30 (Sprint mans), 08:37 (Sprint vroue en para-atlete), 09:40 (Super Sprint mans) en 09:41 (Super Sprint vroue en spanne). Die medaljeseremonie is om 16:15.