Donderbuie, hael dié naweek verwag

Ellanie Smit,Kristien Kruger
Die noordelike, sentrale, oostelike en suidoostelike dele van die land kan volgens die Namibiese weerkantoor die naweek swaar reën en haelstorms verwag, met sommige dele waar selfs kitsvloede kan voorkom.
Volgens Odillo Kgobetsi, die hoofweervoorspeller, is donderbuie en haelstorms gister vir die oostelike dele voorspel wat vandag en môre na die sentrale en noordelike dele van die land sal uitbrei, waar swaar reën verwag kan word – met dele wat moontlik tot 50 mm kan ontvang.
Die ||Kharas-, Kavango- en Zambezistreek sal na verwagting gedeeltelik bewolk en warm wees en die Kunene- en Otjozondjupastreek gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm. Winderige toestande sal na verwagting in die binneland voortduur.
Die suidwestelike dele kan ook vandag reën verwag. Volgens die weerkantoor sal die reën egter oor die naweek in die gebied opklaar.
Die weerkantoor het ’n weerwaak teen kitsvloede, veral in die oostelike en suidoostelike dele van die land, uitgereik.
Die afgelope dae se hitte is vroeër vandeesweek gebreek toe dit op verskeie plekke landswyd gereën het. Sosialemediaplatforms het vandeesweek gegons met Namibiërs wat aangedui het hoeveel reën hulle ontvang het.
Op die plaas Tsuwandes, sowat 50 km buite Outjo, is 76 mm gemeet, terwyl 20 mm op Otjiwarongo geval het, 28 mm op Tsumeb en 12 mm by Vieranas, wat 25 km wes van Kamanjab geleë is.
By Drie Krone op die Dordabispad is 9 mm gemeet, 25 mm 6 km noordoos van Gobabis, 15 mm by Roys Rest Camp, wat 55 km noordoos van Grootfontein geleë is, en 16 mm op Otavi.
Okahandja het 14 mm ontvang en tussen Omitara en Witvlei is tussen 10 mm en 26 mm aangeteken. Sowat 5 km noordoos van Omaruru is 15 mm gemeet en volgens Danielle van Rijn het dit selfs Woensdag laatnamiddag in die omgewing van Omaruru gehael.
In Windhoek naby die Universiteit van Namibië het die reënmeter op 15,1 mm gestaan, terwyl 5,5 mm in Pionierspark, 7,5 mm in Hochlandpark, 7 mm in Kleine Kuppe en 2 mm in Eros aangeteken is. – [email protected]