Goeie reën vir SAOG voorspel

Ellanie Smit
Die grootste deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) sal waarskynlik hierdie somer normale tot bo-normale reënval ontvang.
Luidens ’n verklaring wat uitgereik is na aanleiding van die 26ste jaarlikse Suider-Afrika Klimaatvooruitsigforum (SARCOF 26), wat aanlyn deur die SAOG Klimaatsdienssentrum (CSC) aangebied word, het klimaatkundiges voorspel dat die grootste deel van die SAOG-streek waarskynlik vanaf Oktober tot Maart 2023 goeie neerslae sal ontvang.
Hulle het nasionale meteorologiese dienste in SAOG-lidlande aangemoedig om aan hul eie gedetailleerde voorspellings te werk om die werklike voorspelling vir hul lande vas te lê.
“Sentraal Mosambiek, suidelike Malawi, die noordelike helfte van Zimbabwe, die grootste deel van Zambië, suidelike DRK, die suidoostelike helfte van Angola, die grootste deel van Namibië, die westelike helfte van Botswana, die meeste van die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika en westelike dele van Lesotho, sal waarskynlik normale tot bo-normale reënval deur die boerderyseisoen ontvang,” lui die verklaring.
Kenners het oseaniese en atmosferiese faktore wat die klimaat oor die streek beïnvloed, in ag geneem, insluitend die El Niño suidelike ossillasie (ENSO), wat tans in ’n La Niña-fase is.
La Niña word gedefinieer deur koeler-as-gemiddelde see-oppervlaktemperature in die sentraal-oostelike ekwatoriale Stille Oseaan en verwante atmosferiese veranderinge, en word gewoonlik geassosieer met normale tot bo-normale reën in die suider-Afrikaanse streek.
Die ENSO sal na verwagting gedurende die voorspellingsperiode in 'n La Niña-fase bly.
Die SAOG-sekretariaat, deur die CSC, het vanjaar van 24 tot 26 Augustus die driedaagse SARCOF 26 slypskool byeengeroep, wat plaasgevind het het onder die tema “Vroeë waarskuwing en vroeë aksie: SAOG-streekgereedheid vir ’n gereed-begin! benadering”.
Hierdie tema is gebaseer op seisoenale leiding wat streeksagentskappe en ander belanghebbendes in staat kan stel om hulpbronne regoor die streek te mobiliseer.