Nog reën kom laaste week van Februarie

Droeër toestande in Maart, April verwag
La Niña-toestande, wat wêreldwye reënpatrone oor die afgelope drie jaar oorheers het, het nou finaal plek gemaak het vir meer neutrale Enso-toestande.
Elvira Hattingh
Terwyl Namibië tussen 20 en 27 Februarie weer ‘n goeie kans op reën het wat diekeer verder wes en suid kan uitbrei as die afgelope weke se reënweer, kan droeër toestande daarna volg.
Johan van den Berg, ‘n onafhaklike landbouweerkundige, voorspel heelwat minder reën en droeër toestande vir Maart en selfs tot in April. “Die kans is nou goed op ietwat droeër toestande,” het hy aan Republikein gesê.
Van den Berg sê dit volg nadat die sentrale tot noordelike dele van die land die afgelope weke baie goeie neerslae gehad het.
“Plekke noord van Otjiwarongo het tussen 100 mm en 150 mm oor die afgelope weke ontvang.
“Na verwagting sal daar egter heelwat minder reën oor die volgende week tot tien dae voorkom. Die reën vanaf 20 Februarie kan oor groot gebiede uitbrei en buie van tot 20 mm lewer, maar dit sal nie so swaar wees soos die afgelope weke s’n nie,” het hy gesê.
Van den Berg voeg by dat La Niña-toestande, wat wêreldwye reënpatrone oor die afgelope drie jaar oorheers het, nou finaal plek gemaak het vir meer neutrale Enso-toestande.
“Dit beteken dat ons oor die winter en daarna meer neutrale tot selfs El Niño toestande kan ervaar. Die implikasie hiervan is dat Namibië reën in September en Oktober vanjaar kan ontvang, maar dat die mid-somer en laatsomer droog kan wees.
“Dit is egter nog baie vroeg om enige voorspellings vir later vanjaar te maak en die situasie kan nog verander,” het hy gesê.