Reën ten spyte van El Niño

SADC reik SARCOF-27-verslag uit
Kenners glo steeds dat gemiddelde reënval die grootste gedeelte van die reënseisoen sal voorkom ondanks die naderende El Niño-verskynsel.
Frank Steffen,Tanja Bause
Frank Steffen – Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) het verlede week die SARCOF-27-verslag vir die 2023-’24-reënseisoen bekend gestel.
Volgens die 27ste voorspelling sal die grootste deel van die SADC-streek na verwagting normale tot ondergemiddelde reënval ontvang vir die grootste gedeelte van Oktober en Desember vanjaar, behalwe die noordwestelike deel van Angola, die grootste deel van die Demokratiese Republiek die Kongo, die suidelike helfte van Tanzanië, die noordooste van Zambië, die noordelike deel van Malawi en Mosambiek, Comore, die oostelike deel van Madagaskar en Mauritius, waar selfs normale tot bogemiddelde reënval verwag word. Tanzanië en die Seychelle kan bogemiddelde reënval verwag.
Normale tot bogemiddelde reënval word vir die meeste streke gedurende Desember, Januarie en Februarie verwag, behalwe vir die suidwestelike kusstrook van Namibië, die suidwestelike en noordelike deel van Suid-Afrika, die suidelike deel van Zimbabwe, die oostelike helfte van Botswana, Eswatini en die suidelike deel van Mosambiek, waar normale tot ondergemiddelde reënval verwag word.
Die afgelope paar weke was daar bespiegelinge en berigte vanuit verskeie oorde oor die naderende El Niño-verskynsel. Die verslag bevestig dit, maar wys op die tipiese El Niño-waardes aan die een kant en die positiewe impak van die Indiese Oseaan-dipool (IOD) aan die ander kant.
Die 27ste Klimaatvooruitsig vir Suider-Afrika het tot stand gekom deur die samewerking en ondersteuning van SADC-lidlande asook die Europese Unie onder die Intra-ACP-klimaatdienste en verwante toepassings-projek en ander vennote. Kenners van lande soos Australië, Indië en Asië neem ook oor die algemeen deel.
Boere kan ’n beter prentjie van hul eie omgewing kry deur namibiarangelands.com te besoek.
Die Namibiese Landbou-unie (NLU) haal dikwels die webwerf aan, aangesien dit inligting byhou van weerneigings en weivelde.
[email protected]