Skraal kans op goeie reën

Ligte reën in die eerste, laaste weke van November
Met El Niño wat nog tot April 2024 teenwoordig kan wees, sal temperature hoog tot baie hoog bly.
Ellanie Smit
Daar is ’n kans op reën in die eerste week van November oor die noordelike dele van Namibië en na die middel van die suidelike dele van die land.
Die landbouweerkundige Johan van den Berg het gister in ’n klimaatverslag gesê toestande is in die algemeen nie gunstig vir aansienlike reënneerslae nie.
Ligte reën is wel moontlik in die laaste week van November, het hy gesê.
Volgens hom is die El Niño-ontwikkeling aan die gang en sal dit vir die res van die seisoen tot ongeveer April 2024 teenwoordig wees.
“Maksimum temperature sal hoog tot baie hoog bly.”
Van den Berg het verduidelik dat El Niño in Namibië in meer as 70% van die jare met ondergemiddelde reënval saamgeval het.
Daar is dus rede tot kommer vir ondergemiddelde reënval hierdie somer, het hy bygevoeg.
“Somergraanboere word aangeraai om te verseker dat grondwaterbestuur goed toegepas word. Onkruidbeheer, die bewerkingsmetode en plantdatum sal hierdie seisoen deurslaggewend wees.”
Hy het bygevoeg hulle moet ook probeer om produksiegebiede met swak grondwaterhouvermoë om te skakel na gewasse wat geskik is vir weiding.
Vir die mieliedriehoek wat tussen Tsumeb, Otavi en Grootfontein geleë is, is tussen 15 mm en 20 mm reën moontlik vanaf 1 tot 15 November, met maksimum temperature tussen 29 en 38 grade Celsius, het Van den Berg gesê.
Vir die Hochfeld-gebied kan 5 mm tot 10 mm van 2 tot 4 November voorkom, terwyl maksimum temperature tussen 30 en 38 grade sal wees.
Intussen word daar vir die Hardap-gebied minder as 10 mm reën van 9 tot 11 November verwag en maksimum temperature sal tussen 31 en 41 grade wissel.
- [email protected]