‘Ons moet die wêreld skoon hou’

Tanja Bause
Twee karnallies van die Primêre Skool Pionierspark (Parkies) in Windhoek gee nie net vir die omgewing om nie, maar ook vir hul maatjies en eienaars van motors.
Daniel Gower (6) en Lian van Zyl (5) wat in graad R in Parkies is, het kort ná die aanvang van die skooljaar begin om op pad nasorg toe, glas op te tel.
Petro Grobler gaan haal die twee elke dag by die skool en stap saam met hulle na haar huis toe waar die nasorg is.
“Uit die bloute het hulle begin om stukke glas op te tel. Nou doen hulle dit elke dag. Hulle vra my om hul skoolsakke te dra sodat hulle hande los is. Hulle sê ook vir my om nie so vinnig te loop nie, omdat hulle moet uitkyk vir glasstukke. Ek kry warm, die son brand my en ek wil net by die huis kom, maar kort-kort word daar vir my gesê ek loop te vinnig!” vertel Petro.
Volgens haar het hulle onlangs glas by ’n houer vir herwinbare glas opgetel.
“Nou wil hulle die heeltyd teruggaan. Die mense gooi die bottels langs die houer, daar is baie glas en dit maak hulle mal!”
Daniel sê dit is hulle werk om die glas op te tel.
“Die glas kan die tyres stukkend pop of dit kan die kinders se voete stukkend steek. Kinders wat kaalvoet loop. Ek hou nie van skoene nie en loop kaalvoet. Liewe Jesus het ook gesê ons moet die wêreld skoon hou,” het hy gesê.
“Ons doen dit elke dag wanneer ons van die skool af kom. Ons tel die glas op en wanneer ons by die nasorg kom, gooi ons dit in ’n asdrom. Ons maak skoon, ons maatjies doen dit nie. Ek het vir die maatjies gesê hulle moet dit ook doen, maar hulle doen dit nie. Nou doen ons twee dit maar,” het Lian gesê.
“Ek het vir Lian gesê: ‘Kom ons maak skoon’ en toe sê hy: ‘Ja, kom ons doen dit’. Ek wil vir ander maatjies sê hulle moet die wêreld skoonhou en glas optel,” sê Daniel.
[email protected]